Cilliers & Reynders | Attorneys in Centurion, Thabazimbi and Johannesburg

Swak opgestelde Testament en die gevolge daarvan…

‘n Vriend storm in met ‘n navraag van sy kliënt, ene Mev X (X). Haar (X) saamblymaat (Y), van vele jare, is reeds ‘n paar maande gelede oorlede en alhoewel sy die vruggebruik (VG) van al die kontant in die boedel (sowat R 4 miljoen) van Y geerf het, en nadat die Meester reeds die testament aanvaar het, sit sy in sak en as omdat die aangestelde eksekuteur voete sleep om vir haar een of ander voorskot te gee, terwyl daar genoegsame oorskot van die kontant is, nadat alle boedelkoste en skulde gedelg is. Die eksekuteur, wat waarskynlik nie veel kennis en ervaring van boedelbereddering het nie, vra toe ‘n opinie by ‘n advokaat wat elle lange onnodige tegniese verduidelikings gee oor hoe die proses moet verloop. Duidelik is die advokaat ook nie bedrewe in die alledaagse bereddering van boedels nie. Ingevolge die proses wat die advokaat neerlê gaan X nog ‘n klomp maande wag om gehelp te word.

Die finansiële adviseur wat die testament opgestel het, het die grootste gemors aangevang met die bewoording van die testament. Slegs baie ervare beredderaars sal met moeite die bepalings kan uitpluis. Die vraag is waarom ‘n finansiële adviseur testamente opstel, terwyl hy geen regskwalifikasie het nie en in ‘n posisie van botsende belange is, aangesien hy enige bepaling in die testament kan insit om hom later te bevoordeel. ‘n Testament is een van die heel belangrikste dokumente van enige individu. Oral in Suid Afrika is dit kultuur, dat kliënte groot vertroue het in hul finansiële adviseurs en glo byna alles wat die finansiële adviseurs kwyt raak. Ons mense, veral op die platteland, byt ook vas aan die familie dokter, die familie prokureur, die familie finansiële adviseur en so kan ek aangaan. Die mense daar jag saam, speel saam tennis, is saam op die kerkraad ens. Daar word glad nie of baie min kere vir ‘n tweede opinie gevra, want dit gaan dalk die verhoudings ‘n knou gee. Voor daar oor die spesifieke geval gepraat word, moet mens die Meester wat die testament aanvaar het ook bykom omdat die testament hopeloos is.

Geval:

Paragraaf A: In Y, se enkel testament, bemaak hy sy bates as volg, indien hy sterf: Alle kontant in Trust, tot voordeel van my kinders (Y noem 4 kinders waarvan slegs twee werklik sy kinders is), onderworpe aan vruggebruik vir X, my saamwoonmaat, en by haar dood gaan die VG na die kinders. En die woning gaan na ‘n ander trust vir my kleinkinders, met ‘n woonreg aan X. Daar is geen melding gemaak van die restant nie.

Kommentaar: Die VG na X se dood, staak by haar afsterwe en kan nie oorgaan na die kinders nie. As dit kon, sou elkeen gelyke voordele kry uit inkomste alleen nie die kapitaal nie. VG beteken om slegs die vrug van die kapitaal te gebruik. Die vier kinders wat begunstigdes is in die trust, is elk proporsioneel, maar ongelyk, in persentasies begunstig.  Dis teenstrydig met die VG-gedagte. Die kinders as vruggebruikers kry gelyke proporsies maar die persentasies agter hul name is nie in gelyke dele nie. Verder sal die VG nie geld nie maar die persentasies agter hul name wel, wat beteken dat die trust na X se dood ‘n bewind trust word. Wat die restant aan betref, sal Y se bates intestaat vererf. Dit beteken slegs sy eie kinders gaan erf en nie al vier die “my kinders” nie.

Paragraaf B: By gelyktydige dood bemaak Y sy boedel as volg: My huis aan kleinkinders in trust. Kontant aan my kinders, in trust, met VG aan hulle, staaksgewys. Twee ander legate is aan sy seuns bemaak en die restant aan my kinders en noem die kinders waarvan slegs twee sy eie is en een Mev X se kind is en een ‘n kleinniggie is. Die laaste twee is nie “My kinders” nie.

Kommentaar: Daar word nie genoem wie saam, gelyktydig moes sterf nie. Gelukkig is hierdie paragraaf toe nie van toepassing nie want Y en X (as dit X is wat moes saam sterf), het nie saam gesterf nie. Indien dit X was en Y het genoem dat dit X is en hulle sou saam sterf moet daar forensiese toetse gedoen word om vas te stel wie eerste en wie laaste gesterf het. Dit gaan baie lank neem. Om dit te voorkom, gebruik mens gewoonlik: “By gelyktydige dood van my en X, of binne 30 dae na mekaar, bemaak ek…..”Kontant aan my kinders (nie die kleinniggie of saamblymaat se kind nie), in trust, met VG aan hulle, staaksgewys.” Dit beteken dat die trust ‘n bewind trust is tav inkomste, wat beteken dat die twee kinders altyd gelyke inkomste moet ontvang en as die laaste een sterf is die kapitaal steeds oor. Wat daarvan? ‘n Staak is ‘n afstammelling van ‘n erfgenaam. As kinders VG kry en sterf, eindig die VG en stake kan nie die VG voorts kry nie. Die restant aan my kinders en Y noem die kinders waarvan slegs twee sy eie is en een Mev X se kind is en een ‘n kleinniggie is. Die laaste twee is nie “My kinders” nie. Hier kan ‘n groot probleem kom. Dis nie ‘n Sondagskoolpiekniek waar die Ds al die kinders “my kinders” noem nie. Die wetgewing ageer op wetlik korrekte terme. Kanse is goed dat slegs die eie kinders sou erf. Gelukkig geld hierdie paragraaf nie. Maar dit reflekteer die onkunde van die opsteller.

Paragraaf C

Testamentvoorwaardes word bepaal maar nerens is dit gekoippel aan die twee testamenêre trusts waarna verwys word in par A of Par B nie.

Artikel 26(1A) van die Boedelwet, 66 van 1965

Verder haak die eksekuteur vas by artikel 26(1A) van die Boedelwet, wat bepaal dat die eksekuteur moet toestemming kry by die Meester, om X te help. Die onervare eksekuteur en advokaat besef nie dat daardie artkel nie afdwingbaar is nie en dat die Meester sulke voorskotte kan ratifiseer. Die eksekuteur moet net seker maak dat daar genoegsame fondse in die bestorwe boedel is om wel vir X te help.

Ten laaste behoort die Meester die inhoud van die testament deur te gaan en een of ander bohaai te maak van so swak gehalte testament.

Die finansiële adviseur behoort weg te bly van fidusiëre aangeleenthede en behoort op te hou om testamente en selfs trusts op te stel, net omdat hy/sy ‘n voorbeeld op sy/haar rekenaar het. Dis botsende belange, onverantwoordelik en gulsigheid wat so persoon dryf.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X