Cilliers & Reynders | Attorneys in Centurion, Thabazimbi and Johannesburg

 

LANDBOUWEEKBLAD   13 Mei 2021

 

Andre Eloff

Andre.eloff@hotmail.com

 

Verstaan die realiteit en raak paraat

 

Gades, saamblyers (as gades) en vriende van oorledenes moet paraat word vir die dag as ‘n geliefde sterf. “Sterf”, gaan ons almal en dit gebeur altyd onverwags, en nooit op ‘n geskikte tyd nie, al was die oorledene reeds lank in ‘n siekbed gekluister en met kanker of derglike gediagnoseer, bly dit ‘n skok. Ongelukke gebeur dit elke dag en enige dag met grootmense en kinders. Die wat agter bly moet weet wat om te doen in so geval. Niemand dink of praat oor “die dood” nie, maar dood is ‘n realiteit wat daagliks om ons is en met ons gebeur en ons kan dit nie ignoreer nie.

 

  • Weet alle vrouens wat aangaan in hul mans se besighede?

 

  • Weet alle mans wat aangaan in hul gades se sake?

 

  • Verstaan man en vrou watter implikasie hul huweliksbedeling inhou as een sterf?

 

  • Verstaan saamblyers watter implikasies die saamwoon inhou?

 

Die oorgrote meerderheid van vrouens laat alles oor aan hulle mans. Die “gender equality”- gedagte het nog nie heeltemal ingeskop nie. Vele dames en mans het nie eers ‘n testament nie en die klompie wat wel een het, het dit 20 of 30 jaar gelede gemaak net na hul troue. Heelparty het geen afskrif daarvan nie en weet net, “die vrou kry alles”. Party dink dat die testament wat so lank terug gemaak is nie meer geld nie. Ander is so bang die staat vat alles, maar doen niks om seker te maak dat dit nie so gebeur nie. Geskeides dink, as hulle geskei het, geld daardie testament wat tydens die huwelik gedoen is nie meer nie. Dis ongelukkig nie so nie. Die eks-gade gaan erf as daar nie ‘n nuwe testament opgerig is, binne 3 maande na egskeiding nie.

 

En wat van die vuurwapens wat Ouboet eintlik moet erf, maar die testament bepaal dat “ma” alles erf? Nou erf “ma” dit. Sy het geen vuurwapenlisensie nie en stel nie belang daarin nie en gaan nie so lisensie aanskaf nie. Kanse is goed dat die wapen by die polisie opeindig en vernietig word. Maar wat daarvan as “Ouboet” te jonk is om vuurwapens te erf? Ouboet kan nog nie ‘n wapenlisensie kry nie en wat gebeur dan met die wapen? Hierdie dinge moet bepraat word met deskundiges wat oplossings kan bied.

 

Vrouens ken mos hul mans se doen en late en gedagtes, oor tyd, baie goed en by sommige mans weet die vrouens later dat mans nie altyd alles vertel nie en vir sommiges kan mens “nie altyd glo nie” (tong in die kies). Steeds steur vrouens hulle nie aan die mees belangrikste ding in die lewe nie nl die toekoms, as die man nie meer daar is nie. Vrouens maak nie seker wat gaan gebeur as die man sou sterf nie. Dis asof hulle hoop niemand gaan dood nie. Onthou die man se inkomste is nie meer daar as die man sterf of ongeskik raak nie en daarom behoort gades seker te maak dat hulle versorg is as iets gebeur.

Waar is die testament en hoe lees dit?

Is daar genoegsame kontant om die skuld te delg, na man of vrou

se afsterwe?

Is daar ‘n behoorlike inkomste beskikbaar, na die dood of ongeskiktheid?

 

Moenie dink dat, omdat die man of vrou lede is van ‘n pensioenfonds, of omdat hulle elkeen ‘n Uittree Annuiteit het, dat dit genoegsaam is vir die oudag nie. Dit moet deeglik ontleed word om te bepaal hoeveel daardie aftreefondse gaan uitkeer eendag. M.a.w.daar moet somme gemaak word.

 

Hoe gaan die oorlewende te werk met die begrafnis, die boedelsake, polisse, ‘n inkomste en kontant kort na die geliefde se afsterwe, en wat van die huis, die motors, die skuldeisers, die kinders se skoolgelde, ens. Daar is ‘n doolhof van vrae en slaggate waarin oorlewendes trap, net omdat die moeite te groot is en dit te aardig is, om oor die dood te praat.

 

Wat van die trusts wat “pa” het en wat van sy besighede en boerdery? Dit gebeur dikwels dat “ma” nog nooit in haar lewe by ‘n prokureur was nie want “pa” sien die prokureur altyd en dat “pa” altyd alleen die versekeringsmakelaar sien, want “pa behartig mos al die sake”.

 

In baie gevalle het ma nie eers ‘n bankrekening van haar eie nie, want sy werk met pa se kredietkaart. Al vertel pa vir ma watter polis hy uitgeneem het, het ma nog geen dokument of dekkigsbedrag gesien nie en sy het ook nog geen testament geteken, wat sy kan onthou nie. Die volgende vraag is of die premies van die polisse steeds betaal word want dit is die eerste uitgawe wat mense staak, as dit broekskeur gaan.

 

Wat van die oordrewe vertroue in Finansiële Adviseurs, in baie gevalle. Daar word nooit gevra om ‘n tweede opinie nie. As die dood ingetree het, is dit te laat. As die sake nie uitwerk soos die oorledene en oorlewende gehoop of verstaan het nie, is dit te laat. Finansiële Adviseurs wat advies gee aan kliënte en finansiële produkte verkoop aan kliënte, kan ook nie verskoon word vir hul onkunde nie. Kliënte wat tenagekom is, kan die makelaar voor die ombud-man daag as sake nie uitwerk volgens wat hulle verstaan het nie. Maar as “pa” die enigste een is wat met die makelaar gedeel het, en hy is oorlede, hoe gaan nalatigheid of onkunde of verkeerde advies deur die makelaar, bewys word deur die oorlewende? Maak eerder seker dat beide gades van die begin af weet hoe dinge gaan werk en dat beide reg verstaan hoe die sake ten aansien van versekeringprodukte en beleggingsprodukte werk en hoe dit sal uitbetaal, ten tye van dood. Finansiële Adviseurs moet te alle tye kundig en eties wees of ‘n kundige saam neem na die kliënt, om seker te maak dat die kliënt die beste voordeel, diens en advies kry vir sy omstandighede. Dit bly steeds die man op straat (en sy gade) se verantwoordelikheid om presies te weet wat aangaan.

 

Elke persoon en sy/haar huishouding moet hul eie sake in orde te kry en moet dit in orde hou. Dit gaan oor ‘n mens se doel in die lewe, jou finansies, jou verhoudings, jou godsdiens, jou gesin, jou beroep en kwalifikasies, strukture, ‘n testament en voorsiening vir die oudag. Ons doel in die lewe is nooit slegs een ding nie, maar vele goed wat ons almal moet regkry.

 

Om met die afsterwe van ‘n geliefde gekonfronteer te word is nie maklik nie. Mens is dan so hartseer en broos en gedwing om betrokke te wees. Tussen die trane deur moet die oorlewende deel met o.a. die nakoming van reëls en prosedure wat bestaan a.g.v. stelsels, prosedure en sisteme en ook gaan dit oor die sielkundige verwerking van so verlies. Verder gaan dit gepaard met die verhouding met ons Vader daarbo en ander mense wat sal kan help.

 

Mense moet “streetwise” of paraat raak en sensitief wees oor hierdie sake, sodat die frustrasiedrempel, as gevolg van onkunde en ‘n tekort aan ervaring, ‘n klein bietjie minder word. Wanneer mens meer kundig is en ervaring het, help dit gewoonlik om oplossings te kry vir die duisende vrae. Dit gee gemoedsrus om te weet wat kom en te weet wat om daaraan te doen.

Besoek saam met jou finansiele adviseur ‘n ekspert in omvattende boedelbeplanning en besigheids-annelise om finansiële gemoedsrus te kry.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X