LANDBOUWEEKBLAD (Sperdatum 14 Sept 2021) Publikasie 7 Oktober 2021)
Andre Eloff CFP
Business and Legal Consultants
Lid van FISA
WEES DEURSIGTIG EN PRAAT OOR DIE DOOD
Mense skrum weg, as hulle die werklikheid in die oë moet kyk, en moet praat oor wanneer die dood intree en die gevolge daarvan.
Mens kry die indruk dat die publiek nie regtig weet hoe om hierdie onderwerp aan te pak nie. Omdat die dood ‘n aardige onderwerp is, skrum almal weg daarvan. Aan die ander kant besef die meeste mense, dat hul sake nie reg is nie en wil nie hê dat die gesin, familie en vriende moet weet dat hul skake in wanorde is nie. Hierdie kultuur van “wegsteek” moet verander. Mense behoort meer openlik oor die dinge te praat in ‘n poging om raad te kry by ander, oor wat om te doen as die dood gebeur met ‘n geliefde.
Tydens ‘n Sondagmiddag tee drink-kuier of by die Saterdag-aand braai, waar almal teenwoordig is (Man, vrou en kinders), moet die geselskap die volgende wending neem waar almal begin dink aan die gevolge van die dood en iemand moet vra:
- Wat gebeur as Piet more dood gaan en is julle sake in orde? (Aan Piet se vrou, voor almal) Sy gaan waarskynlik antwoord: “Ek wil nie daaraan dink nie en kom ons praat oor iets anders”. Wel, dring daarop aan om ‘n aanvaarbare antwoord te kry. Almal se koppe gaan na Piet draai.
- Het julle al gedink wat mens met die lyk maak en wie jy bel, as iemand tuis sterf, want dis ‘n saak vir die polisie en mag mens self ‘n lyk vervoer van Koekenaap na die Kaap? “ n Mens behoort ‘n permit te kry of ‘n begrafnisondernemer te huur.
- ‘n Onnatuurlike dood verg ‘n nadoodse ondersoek. Dit kan tyd neem voordat die begrafnis gehou kan word.
- Het julle ‘n begrafnispolis en ‘n begrafnisondernemer? Dis twee verskillende goed. Die polis kan by ‘n versekeringsmaatskappy wees, wat nie lyke versorg nie.
- Die begrafnis word by die kerk gehou, maar het julle besluit oor verassing of ter aarde bestelling of om organe te skenk of om ‘n kadawer te wees en hoe reël mens dit? Almal behoort te weet.
- Wat van die geval as geliefdes die masjiene moet afsit as jy breindood verklaar is, wie gaan die opdrag gee aan die dokter? Dit voel soos moord. Daar is ‘n Lewende Testament wat elkeen kan opstel. Dis nie deel van die gewone testament nie en behoort op die eetkamertafel te lê en almal moet daarvan weet en dit moet nie geberg wees saam met die Testament nie.
- Weet julle hoe belangrik is die oorspronklike Sterftesertifikaat (daar is slegs een) en waar om dit te kry?
- “Sarie, weet jy waar julle testament is en wat daarin staan? Sy gaan waarskynlik antwoord dat dit Piet se afdeling is. Totdat Piet dood is, dan raak dit Sarie se afdeling.
- “Wie is julle Eksekuteur in die boedel en weet julle wat om te doen en wat die Eksekuteur gaan doen en hoe lank dit neem, terwyl alles gevries word?
- Wie is as voog in jul testament vir minderjarige kinders genomineer as beide pa en ma sou sterf?
Is daar met die voogde daaroor gepraat en word daar aan hulle iets vererf om na die kinders te kyk?
- “Sarie, gaan jy en die kinders aan met die boerdery en die besigheid? Piet is kredietwaardig, is julle?
- Hoe gereeld sien julle ‘n makelaar vir lewenspolisse, uittree annuiteite en beleggings en weet julle presies hoe sulke finansiële produkte werk en ook wat uitbetaal word en wanneer, as een van julle iets oorkom? Weet julle wie begunstig is op elke polis, aan watter skuldeiser ‘n sessie geteken is, en hoeveel, waar belê is?
- Het julle vuurwapens en wie erf dit? Dis belangrik dat meerderjariges dit moet erf en hulle moet lisensies gaan uitneem voordat hulle dit erf.
- Het julle ‘n laai, kabinet of spesifiele plek waar al die belangrike dokumentasie reeds geliaseer is en weet die ander waar om dit te kry as iemand sou sterf? Weet julle wat om te liaseer soos die ID’s of minstens gewaarmerkte afskrifte van almal, lys van kodes vir rekenaars, bankrekenings, eposse, en selnommers, motor- en eiendom dokumente, polis- en aftreefonds kontrakte, testamente, besigheid dokumente soos aandeelhouersertifikate, CK 2’s, MOI’s, fin state, trustaktes en Magtigingsbriewe, Inkomstebelasting opgawes, huweliksvoorwaarde kontrak, Egskeiding-skikkings, munisipale rekenings, salarisstrokies, huurooreenkomste, skuldooreenkomste, TV-lisensies, korttermynpolisse, begrafnisondernemer, mediese fonds besonderhede, ens.
- Saamblyers behoort ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse, met ‘n kontrak te “trou”. Dit verskaf baie voordele soos boedelbelastingvrystelling, skenkingsbelasting vrystelling, Intestate vererwing ens.
- “Sarie, weet jy hoe Piet se onderneming werk en waar die risikos is en is dit aangespreek? Almal se oë skuif na Piet wat verkeerdelik die alleen-eienaar is, want die bank gaan die onderneming se bankrekening vries as Piet sterf. Sarie moet minstens 1% mede-eienaar wees, sodat die bank nie die rekening vries nie.
Die risikos in die besigheid is: skuld, Lenings, wat terug betaal word, finansiering vir oorkoop van belange, sleutelmanversekering en meer.
- Elke huis of plaas (eiendom) het sy nukke en grille wat gewoonlik net die eienaar ken en dit behoort op skrif geplaas te word, sodat die ander kan aangaan as die eienaar oorlede is. Sulke nukke is oa. waar die watertoevoer toe gedraai word, waar die elektrisiteit afgesit word, hoe om die geiser te stel, hoe om die alarm te stel, waar die rioolpyp gewoonlik verstop raak, hoe om op die dak te kom, hoe om die kragopwekker te gebruik, hoe lank die boorgat loop en waar die sekuriteit-beams is.
- “Sarie, vertel my van julle trust. Wie is die Oprigter, Trustees en Begunstigdes en wat besit die trust en is daar finansiële state? Selfs Piet sit nou regop…
Indien almal in die gesin en familie weet hoe dinge in mekaar steek en die onvermydelike gebeur, is almal paraat en hoef nie in sak en as te sit en onkundig te wees oor dit wat ons almal gaan tref nie.
Andre Eloff CFP
Business and Legal Consultants
Lid van FISA