17 November 2021
André Eloff CFP®
Business and Legal Consultants (Pty) Ltd
Lid van FISA
BLAPSE EN WENKE IN BOEDELBEPLANNING
As mens daarna vra, kom die antwoord soos klokslag: “Ons goed is reg, ons het ‘n makelaar.” Dis soos ‘n cliché. As mens sommer net in die geselskap begin praat oor mens se testament wat nie reg is nie en die trusts wat nie aandag kry nie, is bykans almal dit eens dat “hul goed nie reg is nie”. Die probleem is dat: “hul weet nie wat hulle nie weet nie.” Kliënte hoop, glo en vertrou dat hul makelaar die volledige advies gee, sonder om ‘n verdere opinie te kry. Ons mense is so bang om die familie se mediese dokter en die jare lange makelaar se gevoelens “seer” te maak, as ons ‘n ander opinie sou vra. Dis waarskynlik die grootste blaps wat gemaak word.
Ons mense praat nie oor die dood nie en gevolglik dink hulle nie oor “wat gaan gebeur as my gade more sou sterf” nie. Dis ‘n groot blaps om dit te ignoreer. Hoe gaan die proses loop? Niemand dink daaraan of daar ‘n begrafnis of verassingsdiens moet wees nie. Watter instansie gaan die begrafnisdiens hanteer en waar kry mens die sterftesertifikaat?
Na die begrafnis, moet daar geld bekom word, want die lewe gaan aan. Die alledaagse goed moet betaal word, soos die water en elektrisiteit, motorversekering en ander korttermynversekering, kos, brandstof en skoolgeld, terwyl die boedel beredder word, wat tussen 5 en 8 maande kan duur om afgehandel te word. Maw, as pa gesterf het, het ma geld nodig om haarself en die kinders te versorg. Die slim mense meen, dat ‘n huishouding ongeveer 6 maande se inkomste in ‘n noodfonds behoort te hê. Dit help ook nie dat dit in pa se bankrekening lê, waar alles gevries word nie.
Daar moet ook genoegsame lewenspolis-opbrengste wees wat na ma uitbetaal word, binne ‘n kort tydjie na die dood, sodat sy nie in die familie se oë moet staan en kyk nie. Sy kan vra vir ‘n voorskot by die eksekuteur, maar deesdae kan dit tot twee maande of langer neem om die aanstelling as Eksekuteur te kry. Sonder die aanstelling, staan alles bot stil. Moenie alle polisopbrengste aan ma begunstig nie, omdat jy geadviseer word dat daar eksekuteursfooi bespaar word. Die boedel moet kontant hê vir die boedelkostes. Dis waarom daar ‘n deeglike beplanning gedoen moet word. As ma al die polisopbrengste kry, kan sy nie sondermeer aan die eksekuteur geld gee om boedelkostes te betaal nie. Daar kan skenkingsbelasting – implikasies wees, as dit gebeur.
Maw, ma moet, ten eerste, nóú reeds, ‘n eie bankrekening kry. En ten tweede, moet sy daarin ‘n noodfonds hê vir minstens 3 maande se lewens-uitgawes. Polisopbrengste behoort binne 3 maande uit te betaal aan haar. Die blaps is, as ma die geld verkwis. Die wenk is: Werk spaarsaam en suinig en moenie oor die geld praat nie en moenie aan die “bloeddorstige” familie geld uitleen nie, want dit gaan nie terugbetaal word nie.
Mans ken hul vrouens en andersom. As die vrou ‘n verkwister is, stig eerder ‘n trust waarin die gesin die begunstigdes is en sorg dat die noodfonds daarin is en dat die trustees verantwoordelik is, om te sorg dat daar na ma en die kinders omgesien word. Sodanige trust behoort daardie noodfonds te hou, en dat daar verdere polisopbrengste ook daarin betaal word.
Die relevante dokumente, vir die bereddering van die boedel word deur die eksekuteur van die boedel vereis, vanaf die naaste familie-lid. Dis gewoonlik die gade. Kry die dokumente in een laai of kabinet en praat oor elke dokument en maak aantekeninge oor dit. Kry die vele “passwords” en kodes en weet waar dit gebruik word. Dink aan die volgende praktiese aspekte soos oa.: Weet waar die kluise se sleutels is. Waar is die testament en moet dit nie weer hersien word nie? Waar word die water van die munisipaliteit toegedraai en waar word die krag afgesit? Watter rioolpyp verstop gewoonlik en wie moet uitkom vir dit en enige herstelwerk in en om die huis. Watter persoon werk gewoonlik aan die voertuie? Wanneer word olie en bande nagegaan en hoe word ‘n papwiel omgeruil?
Indien pa ‘n besigheid het, moet ma weet wat daarin aangaan (risikos) en behoort sy minstens een aandeel en tekenregte van die besigheid se bankrekening verkry, om die werknemers te kan betaal en die verskaffers, om bestaande projekte af te handel. As pa sy aandele aan ‘n ander verkoop, moet daar ‘n getekende Koop en Verkoop Ooreenkoms en finansiering in plek wees (gewoonlik oor-en-weer versekering). Ma moet weet hoe dit werk!
As daar geboer word, behoort ma en “Ouboet” alles te weet oor die boerdery en hoe dit hanteer moet word en waar al die moontlike haakplekke sou wees. ‘n Boerdery kan nie gaan stilstaan terwyl die boedel van die boer beredder word nie en daarom moet die testament, trusts, noodfondse, bankrekeninge, relevante dokumentasie, banksake en derglike te alle tye in plek wees.
Loop lig vir “Gratis Testamente” wat oral ge-adverteer word. Indien daar nie ‘n holistiese beplanning gedoen word nie, wat alle risikos in ag neem en berekeninge van boedelkoste insluit, kan dit wees dat borgskappe waarvoor daar geen finansiële voorsiening gemaak is nie, die boedelgrootte sodanig kan verklein dat die wense nie uitvoerbaar is nie.
Hersien die testament gereeld (minstens elke tweede jaar) en oudit die trustakte gereeld, minstens elke vyf jaar of as daar Wysigings in die wet is of as nuwe hofsake aanpassings vereis .
Die wyse waarop mens getroud is, speel ook ‘’n rol by die beplanning, die testament en by die bereddering tydens die afsterwe van ‘n geliefde.
Mense trou ingevolge Siviele huwelike, wat beheer word deur die Huwelikswet (Wet 25 van 1961), wat insluit: Binne Gemeenskap van Goedere en Buite, met of sonder die aanwasbedeling. Daar is ook gebruiklike huwelike (“Customary marriages”) wat deur die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike, in werking getree het in November 2000. Burgerlike verbintenisse kan aangegaan word deur persone van dieselfde geslag en ook ander saamwoners, en word erken in terme van die Wet op Burgerlike Verbintenisse (2006).
Om paraat te wees, sal verg dat ons aandag gee aan ons sake en dit nie los vir die langslewende nie.
Mens weet nie wie die langslewende gaan wees nie.
André Eloff CFP®
Business and Legal Consultants (Pty) Ltd
Lid van FISA