ETIESE GEDRAG VAN ADVISEURS EN KLIËNTE

André Eloff CFP®

Business and Legal Consultants (Pty) Ltd                                            3 Februarie 2022

Lid van FISA

andre@buslegal.co.za

 

ETIESE GEDRAG VAN ADVISEURS EN KLIËNTE

Mens hoor dikwels die uitdrukking onder sake persone: “die kliënt is koning”. Dit veroorsaak dat kliënte die betekenis daarvan, soms uitbuit en verwag in baie gevalle die onmoontlike van die verkoper of adviseur. Dit het ook in baie gevalle die gevolg dat finansiële adviseurs en boedelbeplanners die reëls so vêr rek, dat dit grens aan growwe nalatigheid en soms oortreding van die wet.

Net soos ons, op ons paaie in Suid Afrika, altyd moet uitkyk op die padgedrag van die ander motoriste, om nie in ‘n botsing betrokke te raak nie, moet die kliënt op die uitkyk wees of die adviseur nie die verkeerde advies gee of die verkeerde produk afsmeer nie. In sekere gevalle is die kliënt aandadig of mede-pligtig en eintlik mede-verantwoordelik vir die verkeerde en onetiese optrede van die adviseur of verkoper van produkte. Die kliënt gebruik maklik die cliché: “Ek weet mos nie, die adviseur moet weet. Dis waarvoor ek betaal of dis waarvoor hy/sy kommissie kry. En ek kan mos koop waar ek wil en by wie ek wil. Dis my geld.” Die kliënt was sy hande in onskuld, maar het gedruk vir die onmoontlike en is nie altyd onskuldig nie. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Geval 1: Mr A neem lewensversekering uit, maar versuim om al die operasies en skete te noem, omdat hy bang is dat die dekking nie toegestaan gaan word nie. Na sy afterwe, vind die versekeringsmaatskappy uit dat hy aan ‘n sekere kwaal gelei het, en wil nie die dekking uitbetaal nie. Die familie neem onregverdiglik, die finansiële adviseur, kwalik en ook die versekerings instansie. Die kliënt is skuldig, want hy was oneerlik.

Geval 2: Mev B bedryf ‘n korttermyn makelary en gebruik verskeie versekerings-maatskappye se produkte. Een van haar kliënte is ‘n Maatskappy C, wat finansiering verskaf aan persone wat geswartlys is en nie elders geholpe kan raak nie, as hulle voertuie wil koop. Die voertuie word by Versekeringsmaatskappy D verseker, deur Mev B. Sy gebruik ‘n sekere Instansie E, wat die administrasie hanteer vir al haar kliënte en ook vir Maarskappy C se motor-kopers. Toe sy haar oë uitvee, het die Instansie E, wat die administrasie doen, die kliënt, Maatskappy C afgerokkel en plaas steeds die besigheid by Versekeringsinstatsie D. Toe sy dit agterkom en navrae doen, wou die klient, Maatskappy C nie openbaar maak dat hulle haar uitskakel en direk met Instansie E voorts gaan sake doen nie. Instansie E,  wou ook nie openbaar maak, wat aan die gang is nie. Aangesien Mev B al die eise hanteer het van sowat 1800 motors, kon sy dit nie meer doen nie en die motor-eienaars wat eise wil registreer, laat toe deurskemer dat Instansie E en Maarskappy C hande gevat het. Mev B verloor, eensklaps, duisende rande se kommissie. In hierdie geval, is die kliënt, Maatskappy C, net so oneties as Instansie E wat C afgerokkel het, sonder om vooraf hul probleem met Mev B te bespreek.

Geval 3: Boere, sakemanne en individue wat korttermyn versekering uitneem vir skade aan hul huisinhoud, voertuie, implemente en kommersiële behoeftes, is tog deeglik bewus daarvan dat die makelaar of adviseur of agent wat die finansiële produk kom bemark, ‘n kommissie verdien. Dis daardie makelaar of adviseur of agent se keuse gewees om sodanig geld te verdien. Dis nie ‘n maklike werk nie en dis waarom almal dit nie wil doen nie. Trouens, dis ‘n uitputtende werk, want so makelaar of adviseur of agent is bykans dag en nag aan diens. As ‘n kliënt 23h00 in die nag skakel oor ‘n voertuig-botsing, dan sal die makelaar assisteer deur om ‘n insleepvoertuig te reël en nooddienste uit te stuur en die eis word hanteer met die versekeringsinstansie. Die kliënt praat met ‘n bekende elke keer.

Daar sal altyd ander makelaars wees wat sal probeer om beter kwotasies vir die kliënt te kry. Boere, sakemanne en individue moet bewus wees daarvan, dat daar hoofsaaklik twee toestemmingsbriewe is wat makelaars gebruik nl:

  1. ‘n Toestemmingsbrief vir Kwotasies, wat boere, sakemanne en individue teken, sodat die nuwe persoon, nuwe kwotasies mag doen. Gewoonlik het die nuwe makelaar die bestaande skedule nodig vir die nuwe kwotasies en daarom word die toestemmingsbrief vereis by die versekeringsmaatskappy. Die nuwe makelaar wil appels met appels vergelyk. Sodra die nuwe persoon die skedule aanvra by die versekeringsinstansie, word die bestaande makelaar daarvan ingelig.
  2. As die kliënt nie meer van sy bestaande makelaar se dienste gebruik wil maak nie, word die tweede toestemmingsbrief, ‘n “Makelaarsaanstelling”, geteken en oorhandig aan ‘n nuwe makelaar. Onmiddellik by ondertekening van hierdie “Makelaarsaanstelling”, het die kliënt sy/haar bestaande makelaar afgedank en voorts, kry hierdie nuwe makelaar al die kommissie, waarvoor die aanvanklike makelaar so hard gewerk het. Die versekeringsinstansies het gewoonlik die bestaande makelaar 14 dae gegun om die kliënt terug te wen, alvorens die nuwe makelaar aanvaar word. Dié konvensie word ongelukkig nie meer deur alle instansies gehandhaaf nie.

Nietemin, boere, sakemanne en individue word baie keer om die bos gelei, waar ‘n nuwe makelaar ‘n beter kwotasie wil bring, deur om ‘n Makelaarsaanstelling te laat teken, ipv ‘n Toestemming vir Kwotasies. Dis ‘n wanvoorstelling en oneties van daardie nuwe makelaar om so truuk te trek en as die bestaande makelaar die kliënt skakel daaroor, was dit nooit die kliënt se bedoeling nie. Die kliënt het nooit gelees voordat hy/sy die toestemmingsbrief geteken het nie. Soms is die kliënt te besig, dat hy/sy nie tyd het om dit reg te stel nie. En omdat daar ‘n konfrontasie voorlê, is die kliënt soms nie lus daarvoor nie en verloor die aanvanklike makelaar daardie kliënt en die kommissie-inkomste, eensklaps. Die verhouding is soms ook geskaad met die aanvanklike makelaar, bloot omdat die kliënt nie gelees het wat hy/sy onderteken het nie.  Nou sit die kliënt met ‘n onetiese makelaar. Neem kennis dat onetiese makelaars hul lisensies van die FSCA (Financial Sector Conduct Authority) sal verloor. Die onetiese en onprofessionele gedrag kan ook aangegee word by die OMBUDMAN en die kliënt is in die middle daarvan. Die kliënt is nie noodwendig onskuldig nie. Presies dieselfde kan gebeur by langtermyn-versekeringsmakelaars wat lewensversekering-produkte verkoop aan kliënte.

André Eloff CFP®

Business and Legal Consultants (Pty) Ltd

 Lid van FISA

andre@buslegal.co.za

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X