André Eloff (CFP®) en A J du Plooy (B Juris, ATC) 1 September 2022
Boedelbeplanners: Business & Legal Consultants
Lid van FISA
HOE VEILIG IS JOU EIENDOM IN JOU BESLOTE KORPORASIE?
Gedurende 1985 tot 2008 was Beslote Korporasies (Closed Corporations) baie gewild vir veral die bedryf van klein sakeondernemings en vir die huisvesting van onroerende eiendom. ‘n Beslote Korporasie of “BK” soos dit alom bekend staan, was aanvanklik ‘n eenvoudiger en goedkoper entiteit om te bedryf. Dit het bygedra tot die gewildheid van dié ondernemingsvorm. Op 1 Mei 2011 word die maatskappyewet egter gewysig en word bepaal dat geen nuwe beslote korporasies opgerig mag word nie. Bestaande beslote korporasies word egter nie geraak nie en mag onbepaald voortbestaan.
BK’s was gesien as die alternatief vir ‘n eenmansaak wat die risiko’s van besigheid “weg hou” van die eienaar se boedel. Hoewel tegnies korrek, is die eienaar as lid van die BK nie noodwendig gevrywaar van alle aanspreeklikheid en besigheidsrisiko’s nie. Tot 10 individue (natuurlike persone) kan lede wees van ‘n BK. Die BK is egter ‘n onafhanklike respersoon wat in eie naam funksioneer en self verantwoordelikheid neem vir sy eie verpligtinge. Belange in ‘n BK kon aanvanklik slegs gehou word deur natuurlike persone. Dit beteken dat die belang in die BK noodwendig in jou boedel vestig. ‘n Individu word lid van die BK. Later,in 2006, het dit moontlik geword dat ‘n trust die belange van ‘n BK kon hou en daardie belange is verteenwoordig deur die trustees. Die vereiste is dat die benoemde begunstigdes nie meer as 10 persone sal wees nie.
Duisende BK’s het egter in onbruik verval en vir beide die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) en die SAID (Suid Afrikaanse Inkomste Diens) het dit ‘n groot probleem geraak aangesien onaktiewe BK’s, gewoonlik nie aan die statutêre vereistes van SAID of CIPC voldoen nie. Ten einde die probleem aan te spreek, het CIPC begin om onaktiewe BK’s te deregistreer. Hoewel CIPC die lede in kennis stel wanneer die proses van deregistrasie begin, word baie BK’s gederegistreer sonder dat lede eens bewus is daarvan. Redes kan legio wees, maar dikwels het die BK se adres verander sonder dat CIPC daarvan in kennis gestel is, of die rekenkundige beampte tree nie meer op vir die BK nie en ignoreer verdere kennisgewings of die lede ignoreer dit bloot uit onkunde.
Maar waaroor gaan die bohaai nou eintlik?
Eerstens vereis CIPC dat alle BK’s jaarliks ‘n opgawe indien ongeag daarvan of die BK nog aktief besigheid bedryf al dan nie.
Tweedens moet die BK jaarliks belastingopgawes by SARS indien ongeag daarvan of die besigheid nog bedryf word of nie.
Die doel van CIPC se jaarlikse opgawe is om te bepaal of die BK nog in bedryf is, en die opgawe dien as ‘n soort van “hernuwing” of bevestiging van sy bestaan. Dit gaan ook gepaard met ‘n fooi wat betaal word aan CIPC. Indien geen opgawe binne die voorgeskrewe tyd ontvang word nie, word aanvaar dat die BK nie meer aktief is of besigheid doen nie en begin CIPC outomaties stappe neem om die BK te deregistreer.
Die effek van deregistrasie is dat die BK sy respersoonlikheid verloor. Die resultaat van deregistrasie kan egter verreikend wees:
Die vereiste vir die jaarlikse CIPC – opgawes is onafhanklik daarvan of die SAID – opgawes ingedien word, al dan nie. Die resultaat indien daar nie opgawes by CIPC ingedien word nie, is egter meer verreikend. Dit beteken eenvoudig dat jou plaas waarop jy woon of boer, of enige ander eiendom in die naam van die BK, lankal nie meer aan jou behoort nie. Om die probleem van deregistrasie reg te stel, moet die BK weer geaktiveer word, deur ‘n proses wat tydsaam is en baie duur kan wees.
Ten einde die BK te her-aktiveer, beteken dit onder andere dat:
Versuim om die SAID se belastingopgawes in te dien, sal in alle waarskynlikheid uiteindelik boetes en rentes vir die BK meebring, selfs al was daar geen belasbare inkomste nie.
Indien lede dus nie seker is of die jaarlikse CIPC – opgawes van ‘n BK gereeld ingedien en die voorgeskrewe fooie betaal is nie, is dit nou die regte tyd om dit vas te stel. Gesels sonder versuim met die rekenkundige beampte van die BK of ‘n ander kundige persoon, en doen die nodige om die dooie BK weer nuwe lewe in te blaas en die eienaarskap van die bates in die BK, weer terug te kry en te beskerm.
André Eloff (CFP®) en A J du Plooy (B Juris, ATC)
Boedelbeplanners: Business & Legal Consultants
Lid van FISA