André Eloff (CFP)
Boedelbeplanner: Business & Legal Consultants 11 November 2021
Lid van FISA
KOSTES EN BOEDELS
DEEGLIKE HOLISTIESE BEPLANNING BEPERK ONNODIGE KOSTES
Almal is koste sensitief. As mense hoor van “Boedelbeplanning”, dink die meeste aan “polisse” en dit laat die antennas regop spring en onmiddellik kom die woorde: “Ek het ‘n makelaar en my goed is in orde”. Baie dink, dat as daar genoegsame doodsdekking (kontant) is, dat dit al die risikos gaan ondervang. Lewenspolisse, moet korrek uitgeneem word, elk vir die regte doel. ‘n Voorbeeld van sodanige blaps: A is ‘n mediese arts en bedryf twee praktyke in twee dorpe. Daar is banklenings van R 15 miljoen, wat verdeel is, in beide ondernemings, ‘n R 2 miljoen verband op hul huis en lenings wat A self gemaak het aan die praktyke is R 3 miljoen. A neem ‘n polis van R 40 miljoen op sy lewe uit, op sy aandrang, en begunstig sy gade. A meen daar is genoeg geld om alles te betaal as hy sterf. Hulle het twee kinders. Daar is geen ander lewensversekeringe nie. As A sou sterf, skuld sy boedel die bank R 17 miljoen (besigheidlenings en verband), want hy het borg geteken by die bank. Die R 3 miljoen-lening gaan ook nie terug betaal word aan sy boedel, deur die besighede nie, want sulke mediese praktyke is gewoonlik nie veel werd nie. A se boedel is tegnies insolvent. Die eksekuteur gaan die gade vra vir geld, want sy het R 40 miljoen gekry uit ‘n polis. Gade kan ongelukkig nie sonder belastingimplikasies R 17 miljoen plus die boedelkoste aan die eksekuteur gee nie. Sy kan slegs R 100 000-00 per jaar skenk sonder om skenkingsbelasting te betaal. Op elke bedrag na R 100 000-00 wat sy gaan skenk, is daar 20% skenkingsbelasting betaalbaar in daardie finansiële jaar. ‘n Goeie makelaar beter voorstel sou eerder die volgende polis-strukture wees voorgestel het: 1. Lewenspolis van R 15 miljoen + Boedelbelasting (BB), waar die besigheid die aansoeker, eienaar en betaler is; 2. ‘n lewenspolis op A se lewe van R 2 miljoen + BB, met ‘n sydelingse sessie aan die bank vir die verband; 3. ‘n polis vir R 3 miljoen + BB op A se lewe, waar die besigheid die aansoeker, eienaar en betaler is, om A se boedel terug te betaal vir die lening. Geeneen van die voorafgaande polisse sal onderhweig wees aan skenkingsbelasting nie. ‘n Vierde polis op A se lewe, waar die gade die begunstig is, kan vir haar versorging uitgeneem word. Dekking afhangend van die bekostigbaarheid, R20 miljoen of enige ander bedrag wees. Ingevolge Artikel 4q van die Boedelbelastingwet, is geen BB op hierdie laaste polis betaalbaar nie.
Deeglike beplanning wat kundige advies vereis, is noodsaaklik. Daar is ongelukkig bra min boedels wat reg beplan is en waarvan die wat se strukture reg is. Wanneer ‘n geliefde sterf, word baie aspekte in ag geneem, soos hoe mens getroud is en ook verkeerde wense soos: “dat my seun van 8 jaar, my vuurwapen moet erf” of “My seun erf my maatskappy en my dogter erf R 2 miljoen, van die R 6 miljoen wat in kontant in die maatskappy is”. Soms word goed vererf aan kinders en kleinkinders, wat nie die goed wil hê nie, soos: “Sussie erf ouma se kis wat vol doilies, hekel-lappies en ou dooprokkies is. Sussie het altyd so graag daarmee gespeel toe sy 5 jaar oud was” of “Ouboet erf oupa se 1918 Ford (geroes sonder sitplekke of enjin), want hy het so lekker daarin gespeel”. In sekere gevalle wou Ousus graag die portrette in ouma se gang erf en ouma het altyd gesê dat sy dit kan kry, maar tant Koekie (ma se suster) het dit kom gaps, na ouma se begrafnis. En dit is nie in die testament as ‘n legaat vererf nie.
Wanneer ‘n geliefde sterf is almal besorg oor die koste, die boedelbelasting, eksekuteursfooi en derglike van die oorledene se boedel. Terwyl daar reënboogtoebroodjies ge-eet word na die teraarde-bestelling, word baie wysheid gedeel en weet baie alles van boedelbereddering af, of ken iemand ‘n prokureure wat weet of iemand wie dit die beste en goedkoopste kan doen. Wat wel waar is , is dat as ‘n boedel reg en korrek beplan was en die regte risikos ondervang was en die testament uitvoerbaar is en die trusts gereeld geoudit was en die besighede se risikos ge-identifiseer is en aangespreek is, sal die koste minimal wees. Elke persoon se situasie verskil egter van die volgende persoon sin en verg individuele beplanning. Ongelukkig weereens, wil mense wil nie betaal vir ‘n behoorlike holistiese boedelbeplanning terwyl hulle lewe nie, en wanneer die dood onverwags intree, het “kwasi-kundiges” baie te sê en word die “hele skepping” beskuldig omdat niks verloop soos almal vermoed het nie. Almal weet dat die dood enige tyd of enige dag kan intree, maar die meeste wil nie daaraan dink of iets doen om hul boedels korrek te beplan nie. Holistiese Boedelbeplanning is ‘n spesialis terrein wat nie noodwendig ook in die ervaringsveld van Finansiële Adviseurs (wat lewenspolisse, aftree-produkte en beleggings verkoop) val nie. So ook is Boedelbereddering ‘n spesialis taak en nie elke broerskind wat regte swot of neef wat ‘n prokureur is of tannie wat boeke doen, kan ‘n boedel effektief beredder nie. Hoe beter dit beplan is, en waar die risikos ondervang is, en waar die relevante dokumente beskikbaar is, hoe vinniger word die boedel afgehandel deur ‘n kundige beredderaar. Vrot beplanning en geen beplanning lei later tot die volgende uitbarstings: “Dis ‘n onkundige beredderaar, ‘n onnosele makelaar, ‘n patat van ‘n testament-opsteller, ‘n trust wat die sotlike prokureur maar kon hou, ens.” Om holisties (in geheel) al die aspekte in ‘n boedel na te gaan, voorstelle te maak, testament en trusts te oudit en te wysig en alle risikos in die besigheid en elders te identifiseer en ten beste ‘n plan te maak, beteken eintlik dat die beplanner genoegsame inligting moet verkry van die makelaar, prokureur, ouditeur, bankbestuurder, die kliënt en die gade en soms van die kinders. ‘n Volledige boedelbeplanning kos geld, want dit neem tyd. Mense wil nie betaal vir ‘n holistiese boedelbeplanning nie en is tevrede met dit wat die jare lange profesionele kundiges en die bure sê. “Penny wise and pound foolish” het my ma altyd gesê. Mens kry waarvoor jy betaal, of nie betaal nie. Goeie advies is om ‘n tweede en derde opinie te kry. Weg van jou vriende, goeie kennisse en die bure af en betaal eerder daarvoor. Die insette van die makelaar, ouditeur en prokureur word wel gebruik. ‘n Boedel word beredder ingevolge Artikel 13 van die Boedelwet, 66 van 1965, maar as dit kleiner as R 250 000-00 is, word so boedel in terme van Artikel 18(3) beredder. ‘n Familielid kan dit doen, word beweer. Maar hoe word dit gedoen? Boedels verskil. Nou die dag, verg dit ‘n dekbrief en 15 dokumente aan die Meester, om iemand te bloot om ‘n Artikel 18(3)-boedel aan te meld. Fidusiëre maatskappye vra geld om die dokumente te voltooi en aan die Meester te stuur om ‘n Eksekuteursbrief of Aanstellingsbrieg te kry. Doen die regte ding vir jouself en jou geliefdes wie jy nalaat, en betaal vir behoorlike advies.