Cilliers & Reynders | Attorneys in Centurion, Thabazimbi and Johannesburg

LANDBOUWEEKBLAD

Vir publikasie op 10 Maart 2022                            (Sperdatum: 18 Febr 2022)

André Eloff CFP®

Business and Legal Consultants (Pty) Ltd

Lid van FISA

andre@buslegal.co.za

 

PRAKTIESE WENKE VIR ELKE GESIN

Terwyl mens leef en hard werk en speel en stoei om die pot aan die kook te hou, dink ons nie aan die oudag nie en glad nie aan dood gaan nie. Ongelukkig het die statistieke bewys dat een uit elke een mens sal sterf, soos die dominees eendag gesê het. En as mens oud word en nie noodwendig amptelik aftree nie en steeds aanhou werk, sal daar ‘n dag kom dat mens maar stewels moet ophang, want die lyf of die koppie of beide, kan ingee. Verder, gedurende ons lewens, gebeur daar van tyd tot tyd, minder goeie dinge, soos dat mens familielede afstaan aan die dood of van hulle raak ongeskik en ek en jy moet na sulke geliefdes omsien. Hierdie is die harde feite van die lewe, maar ons moet paraat wees, om sover moontlik, die houe te kan vat en die omstandigheid te swaai na ‘n beter situasie. Om paraat te wees ten aansien van die risikos in ‘n mens se sake, besigheid, boerdery, bates en laste, finansies, beleggings, sekuriteit en derglike, verg kundigheid en kennis en vir die gewone ou op straat is dit soms ‘n berg wat oorgesteek moet word, want mens is so gefokus op jou eie spesialiteit en dit waarmee jy werk, dat jy skaars aandag gee aan die bovermelde. Hier volg ‘n klompie praktiese wenke, om die risikos en frustrasies te verminder:

  1. Sorg dat die testament gereeld hersien word deur ‘n kundige, wat holisties na al die risikos kyk ten aansien van jul bates en laste, versekering, testament, trust(s) en besighede waarin jy en jou gade betrokke is. ‘n Testament moet uitvoerbaar wees;
  2. Sonder ‘n laai of kabinet af, om al die belangrike en relevante dokumente oor jou bates en laste, besighede, trusts en jou testament en lisensies van voertuie en wapens en derglike daarin toe te sluit en te bewaar en sorg dat die gade en kinders weet waar dit is.
  3. As daar ‘n egskeiding was, moet beide partye binne drie(3) maande na die egskeidingsbevel, hul testament verander, anders geld die testament wat voor egskeiding verly is. Maw die eks kan dalk alles erf as die testament sodanig bepaal het.
  4. Kodes vir rekenaars, kluise (tuis en op kantoor), motors, kamers, garages en store wat elders is as op die woning-perseel, moet gereeld opdateer word en gegee word aan die gade en ouer kinders en dalk ‘n vertroueling-vriend.
  5. Na die afsterwe van ‘n gade, moet die oorlewende se status by die Departement van Binnelandse Sake, aangepas word na “Weduwee” of “Wewenaar”. Die nalaat daarvan, veroorsaak dat as die langslewende sterf, neem dit etlike maande vir die eksekuteur om dit eers te wysig, alvorens daar met die bereddering van die boedel begin kan word.
  6. Na die dood van ‘n geliefde, is die Sterftesertifikaat ‘n baie belangrike dokument, aangesien daar slegs een oorspronklike is, wat deur die Departement van Binnelandse Sake uitgereik is. Maak kopië en bewaar die oorspronklike, totdat die Meester dit vereis tydens die bereddering van die boedel.
  7. In baie gevalle het die vrou nie ‘n bankrekening nie, omdat sy met ‘n kredietkaart haar aankope doen, wat aan die man se bankrekening gekoppel is. Sorg dat elke vrou hul eie banktekening het, want na die man se afsterwe, bied die afwesigheid van so bankrekening groot probleme.
  8. Persone wat hul liggame skenk aan universiteite as kadawers en ander wat ledemate skenk, moet hul familie en vriende inlig daaroor en die kontakpersone en instansies se besonderhede moet byderhand wees, aangesien sodanige liggame baie vining vervoer moet word na die relevante instansies.
  9. Lewende Testamente (om die masjiene af te sit as mens breindood is) moet nie saam met die gewone Testament geliaseer word nie. Dit moet netsoos in punt no 8, ook aan vriende en familie bekend wees en byderhand wees, as dit nodig sou wees om aan die dokter te gee.
  • Daar moet gemoegsame kontant in die boedel van man en vrou wees, sodat die bereddering glad kan verloop, anders word eiendom, wat gedwonge verkoop word, teen swak pryse van die hand gesit. Neem lewensdekking uit, as die gesondheid dit toelaat, want dit bly die goedkoopste “belegging” wat mens kan maak. Mens betaal nie naastenby in as wat mens se boedel uitkry nie.
  • Koop lewensversekering waar nodig. Vele mense “glo” nie in lewensdekking nie. Dis nie ‘n geloof nie. Dis bloot risiko-dekking, soos korttemynversekering, maar ‘n lewenspolis betaal wel uit by dood.
  • Maak seker dat mens nie skete, operasies, siektes, geestes ongesteldhede soos depressie, die gebruik van sekere medisyne en dwems verswyg by die uitneem van lewensdekking nie, want dit kan veroorsaak dat die polis nie uitbetaal nie.
  • Maak gebruik van ‘n versekeringsinstansie wat jou onderskryf op die dag van die uitneem van die polis. As jy later begin rook of deelneem aan diepseeduik, het dit geen invloed op daardie spesifieke polis nie.
  • Spaar vir die oudag, so veel as moontlik en kry meer as een opinie vir beleggings.
  • As mense saambly, oorweeg dit om ingevolge die Wet op Burgerlike Verbindtenisse, 17 van 2006, aan mekaar trou te sweer by wyse van ‘n kontrak, om al die voordele te kry wat getroudes ontvang.
  • Trusts moet voldoen aan Direktiewe van die Meeste van die Hooggeregshof en moet voldoen aan reëls en regulasies van die wetgewer. Die finansiële state is deel van die voldoening. Daar is vele ander vereistes en administratiewe werk wat gedoen moet word, soos agendas, vergaderings, notules, trustwysigings, aanstelling van ‘n onafhanklike trustee, banksake en rekonsiliasie daarvan, resolusies, ooreenkomste en derglike. Kry ‘n kundige om te help.
  • Sakerisikos, wat insluit borgskappe, debietlenings, koop en verkoop ooreenkomste, sleutelman-risikos, en ook korttermynversekering en aftree voorsiening aan werknemers, moet aandag kry.
  • Belangrike wetgewing is Artikel 9HA van die Inkomstebelastingwet, 58 van 1962, wat eenmansaak-boere en -sakemanne se boedelkoste drasties kan vergroot. Daar is ‘n oplossing.
  • Artikel 7 C van dieselfde wet hierbo, het ‘n hoofpyn gebring, as mens rentevrye lenings aan jou trust gemaak het, want sedert 1 Maart 2017 moet trusts rente betaal aan leners, teen 1% bo die Repo-koers.

Hierdie is slegs ‘n paar, baie belangrike wenke vir elke huishouding om seker te maak dat die risikos ondervang sal word.

 

André Eloff CFP®

Business and Legal Consultants (Pty) Ltd

 Lid van FISA

andre@buslegal.co.za

Woorde 1036

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X