TESTAMENT: ONGELUKKIGHEID VAN ERFGENAME
André Eloff boedelbeplanner en konsultant vir Business & Legal Consultants
Bykans alle erfgename of ‘n groot persentasie van erfgename is gewoonlik ongelukkig omdat hulle nie erf wat hulle graag sou wou erf van hul ouers nie. Daar is min families wat tevrede is met dit wat vir elkeen nagelaat is, na die afsterwe van die langslewende ouer, al bepaal die testament dat die kinders “gelykop erf”. Dis telkens verstommend hoe broers en susters uitmekaar spat na die begrafnis om mekaar vir altyd te vermy. Soms is die fetes reeds jare al aan die gang en dit vererger na die afsterwe van die laaste ouer, want die erfenisse of erfgoed is nie aanvaarbaar nie.
Kinders (al is hulle 50 jaar of ouer) verstaan nie dat dit ‘n voorreg is om enigsins iets te erf nie. Dis geen reg nie. Daar is vele faktore wat die inhaligheid van kinders bevorder, wat daartoe lei dat sibbe mekaar aanvat, beskuldig, sleg sê, verag, beskinder, haat, ignoreer, insê, van mekaar vervreem raak en soms ook handgemeen raak en dit oor die goed van ander mense (al is dit die ouers). Erfgename het nie vir daardie erfgoed gewerk nie of voel sommiges verwerp as hulle minder erf?
Die faktore vir die minder aangename gedrag is oa:
Die trauma wat sulke broers en susters veroorsaak is tragies want nefies en niggies sien mekaar nooit weer nie. Broederliefde hang in die lug. “Alles oor aardse goed”, soos my ma altyd gesê het. Niemand wen nie. Bid, maak die ongeregtigheid en onregverdigheid nie beter nie. Dis ‘n lewenslange juk wat gedra word deur almal. Hierdie probleem is ‘n opvoedingsdilema en het deel geword van ons kultuur en behoort uitgeroei te word.
Boonop sit die eksekuteur met die onopgevoede, onvolwasse, onbillike, inhalige en kleinlike gedrag van die kinders. Dis ‘n sosiale siekte van ons tyd. Eksekuteurs moet gewoonlik, in bykans elke bestorwe boedel herverdelingsooreenkomste maak tussen die kinders. Dié wat nie tevrede is nie, weier om sodanige herverdelingsooreenkoms te onderteken en dit laat die bereddering stil staan. Meer gereeld, dreig kinders met hofsake, wat slegs in die Hooggeregshof teen ‘n hoë koste aanhanging gemaak kan word. Dis ‘n onhoudbare situasie vir eksekuteurs en erfgename.
Die vraag is:
Wat kan gedoen word aan hierdie ernstige sosiale probleem?
Wat moet ouers doen en hoe moet kinders hulle gedra?
Daar is sekere modelle wat gebruik kan word, maar of dit werk bly ‘n ope vraag.
Model 1: Kinders kies reeds vooraf sekere erfstukke en dit word gemerk vir eendag en die ander is bewus van die erfstukke wat die ander kry. Dit verg dat daar in die testament legate (die spesifieke goed wat spesifieke kinders erf) uitgespel word, sodat die eksekuteur nie later sukkel om agter te kom wie, wat geneem het nie. Die sg “wenslys” is nie geldig in Suid Afrika nie, tensy dit as aanhangsel tot die testament gevoeg is. Hierdie model dui op deursigtigheid vir almal.
Model 2: Plase en besighede word reeds geoormerk vir sekere kinders en die ander erf gelyke erfenisse en niemand is vies nie.
As daar ander maniere is, moet dit tog geopenbaar word. Beskaafdheid, opvoeding, deursigtigheid, regverdigheid en billikheid van erfgename is waarskynlik die wagwoorde om die probleem die hoof te bied. Verder moet die testament uitvoerbaar wees, anders vererf daardie deel wat nie uitvoerbaar is nie, intestaat of nie volgens die bedoeling en wens van die oorledene nie. Mens behoort ‘n Arbitrasie klousule in die testament te plaas, sodat die boedelbereddering-oefening nie halt gedurende die proses nie. Of dit die boosheid en inhaligheid sal teenwerk is ‘n ope vraag, maar dit sal darem sorg dat die eksekuteur onthef word om skeidsregter te speel want arbitrasie kan meehelp dat die boedel betyds afgehandel word. Hier volg ‘n voorbeeld van so noodsaaklike klousule:
Arbitrasie
Enige geskil tussen my eksekuteur of erfgename, of enige ander party, onder mekaar, sal vir arbitrasie verwys word. Die arbiter sal ‘n senior advokaat wees, aangestel deur die voorsitter van die Balieraad in die jurisdiksie van die Meester van die Hooggeregshof waar ons boedels geregistreer is. Dit is my wens dat alle arbitrasie verrigtinge, indien enigsins moontlik, informeel geskied en dat alle betrokke partye persoonlik verskyn, sonder regshulp. Die arbiter se beslissing sal as finaal aanvaar word en hy word gemagtig om sodanige bevel te maak ten opsigte van kostes as wat hy billik en regverdig mag ag.
André Eloff boedelbeplanner en konsultant vir Business & Legal Consultants