Cilliers & Reynders | Attorneys in Centurion, Thabazimbi and Johannesburg

Vir meer as 30 jaar doen ek en my kollega boedelbeplannings vir sakemanne, boere, direkteure van maatskappye, persone van die mediese beroepe, rekenmeesters en ouditeure, makelaars en nie-sakemense. Ons doen holistiese beplannings, aftreebeplannings, beleggingsbeplannings en sakebeplannings. Tydens die ontledings word testamente en trusts geoudit en gewysig, waar nodig en sake- en ander risikos word geidentifiseer en wenke en voorstelle daarvoor word gegee. Wysiging van boedelstrukture en vererwings-wenke is gewoonlik noodsaaklik om belastings en kostes te verminder, ten tye van afsterwe. Ons ervaar daagliks dat mense se sake nie in orde is nie en dat vele blapse gemaak word. Ons almal behoort vooraf te weet hoe sake gaan verloop as ‘n geliefde sou sterf. Na die afsterwe kan verkeerde besluite, foutiewe dokumente en risikos nie reggestel word nie. ‘n Individu se boedel bestaan uit 4 (vier) dele nl: Ten eerste, die bates wat mens wetlik besit op jou naam plus die laste waarvoor jy persoonlik verantwoordelik is. Ten tweede, jou testament aan wie jy jou bates laat vererf by afsterwe, nadat jou laste, skulde, die laaste inkomstebelasting en kostes betaal is. Ten derde, die besighede waarin jy ‘n belang het (maatskappye en BK’s), wat se risikos jou en mede-eienaars se verantwoordelikheid is, soos borgskappe, lenings en finansiering aangegaan vir die ondernemings. En ten laaste, jou trusts, wat ook soms borgskappe dra en lenings gemaak het wat ook jou verantwoordelikheid is. Hierdie 4 dele moet sinkroniseer, wat beteken dat alle risikos gedek moet wees as jy sterf. Jou beleggings vir die oudag, vir studievoorsiening of vir projekte wat jy nog wil doen, moet ook in plek wees.

Wanneer ‘n broodwinner sterf, wat enige dag kan gebeur, moet daar genoeg kontant wees om, ten eerste, die boedel af te handel en ten tweede, om die gade en kinders te versorg. Die vraag is of die gade kan aangaan met die onderneming en of die kinders kan oorneem en of daar ‘n Koop en Verkoop Ooreenkoms is, sodat ‘n vennoot kan aangaan, maar dat die gade uitbetaal word? Die grootste risiko is, as die sakeman 100% eienaarskap het van ‘n maatskappy of BK. By afsterwe sal die bank daardie onderneming se bankrekening vries. Dan kan personeel nie betaal word nie, verskaffers ook nie en projekte stop. Die enigste persoon wat dan die bankrekening kan open is die eksekuteur, wat dalk binne ‘n maand of twee of ses eers sy aanstelling kry by die Meester. Daardie onderneming sterf net daar. Later word slegs die bakkies en rakkies en ou masjienerie verkoop. Mede-eienaarskap is die antwoord, maar op die korrekte wyse.

Sakemanne moet deeglik onderskei tussen hul eienaarskap, hul direkteurskap en hul aanstelling as werkers, waar elkeen ‘n dienskontrak moet hê vir hul betrokke pos. ‘n Direkteur is nie noodwendig ‘n aandeelhouer nie. As die finansiële direkteur geld verduister en skuldig bevind word, word gewoonlik stappe geneem word om hom uit die pos te verwyder. Indien hy verwyder word, het hy soms steeds aandele en weier hy om te bedank as direkteur. Die aandeelhouersooreenkoms behoort van die begin af voorsiening te maak, dat as iemand nie meer daar werksaam is nie, sal hy/sy bedank as direkteur en sal hy/sy hul aandele aan die ander verkoop. Kry dit vooraf op ‘n getekende kontrak, om vele onaangename deur hofsake te vermy.

Hier volg ‘n paar ondeurdagte besluite wat ons gereeld raakloop by kliënte, wat later groot probleme veroorsaak:

Ten eerste: As daar ‘n gereelde groot kontantvloei in die huishouding inkom, is dit asof die kliënt dink en aanvaar dat die inkomste altyd beskikbaar sal wees, selfs na die dood. Hierdie mense doen nie ‘n boedelbeplanning nie want geld is mos geen probleem nie. As die een wat die kontant inkomste veroorsaak (gewoonlik die pa) sou sterf, wat dan?

Ten tweede: Baie boere, nie almal nie, sorg graag daarvoor in hul testamente en trusts, dat hul seuns die boerdery en grond erf en hulle maak nie veel voorsiening vir hul gade en dogters nie. Sommiges meen, dat die seuns na hul ma moet omsien, want alles moet steeds aangaan op die plaas, soos altyd, na die dood van die boer. Vraag is, as die seuns vroeg afsterwe, gaan die skoondogters na die ma omsien? Die ma besit in baie gevalle min of geen bates.

Ten derde: Sekere sakemanne en boere koop nie lewensdekking of uittree annuiteite nie. Hulle “glo” nie in versekering nie. Wel, dis nie ‘n geloof nie. Mens betaal vir die risiko van vroeg sterf, om ‘n opbrengs na te laat vir vrou en kinders. Ander koop nie versekeringsprodukte soos beleggings- en aftree-produkte nie, want volgens hulle, word baie meer winste self gemaak as wat die groei in beleggings- en aftree-produkte is. As die oudag kom en hulle afskaal en oorgee aan die kindres, het hulle niks bymekaar gemaak nie en is hulle afhanklik van die kinders. As die kinders nie regkom met die boerdery of besigheid nie, sit die oues in sak en as en wens daar was ‘n pensioen of belegging.

Ten vierde: Baie dames is onder die indruk dat hul eggenote sorg dat hul sake in orde is. Die man praat van tyd tot tyd met sy vrou oor hul sake en wys die polisdokumente en testament en trust, maar ma het geen idee hoe dit werk nie en stel nie regtig belang nie en verder praat sy nie oor die dood nie. “Wel mevrou, as jou man vanaand sterf, hoe lyk jou sake more oggend?” Dan is daar saamblyers wat dink dat hulle soos getroudes voor die wet staan. Dis nie waar nie en dit hou vele teleurstellinge in.

Ten vyfde: Die meeste mense is lojaal teenoor hul finansiële adviseurs, ouditeure en prokureurs. Geen tweede- of derde opinie word gevra nie, om die verhouding met hulle te spaar. Dit is onverantwoordelik en kortsigtig. Vra opinies by ander ook en maak ‘n ingeligte besluit. As die trekker lol, vra die boer vier of meer werktuigkundiges se raat, tot die ding weer ry. Probleem is, na jou afsterwe kan geen wysiging gedoen word nie.

Ten laaste: Baie min is bereid om te betaal vir ‘n volledige holistiese boedelbeplanning. Kliënte is bederf in SA deur finansiële adviseurs wat kommissie kry uit verkope van polisse en doen gratis beplannings. Die meeste kan nie holistiese boedelbeplannings doen nie, bloot omdat hulle nie kennis het van oa trusts en besighede se doen en late nie. Onthou die 4 dele van ‘n mens se boedel moet sinkroniseer en man en vrou moet presies weet hoe sake staan as een sterf.

André Eloff (CFP®) en A J du Plooy (B Juris, ATC)

Boedelbeplanners: Business & Legal Consultants (Pty) Ltd

Lid van FISA

andre@buslegal.co.za

 

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X