SORG DAT JOU SAKE IN PLEK IS

‘n Boedel

‘n Mens se boedel sluit in alles wat jy besit, maw wat op jou naam is. Vaste eiendom of onroerende goed soos huise en plase en roerende goed soos oa  meubels, juwele, vuurwapens, kontant, beleggings, lewende hawe, aandele in maatskappye, moet vererf as jy sterf. Jou goed vererf na iemand anders of na instansies. Mens het ‘n testament nodig om self te besluit wie jou bates erf, anders bepaal die wet, wie jou goed gaan kry. Na jou dood, word jou bates bymekaar gekry en jou skuld betaal en die oorblywende goed word uitgedeel. Dit word bereddering genoem. Die eksekuteur hanteer die proses. Jy kan self ‘n eksekuteur kies in jou testament, anders kies die Meester van die Hooggeregshof een. Gedurende die bereddering word ‘n Likwidasie- en Distribusierekening opgestel wat ‘n opsomming is van jou bates en laste en wie wat erf, volgens die testament. Bereddering kan sowat 8 maande of langer duur, afhangend van die kompleksiteit van die boedel. Daar moet genoegsame kontant wees om die boedelkoste te dek. Verdere kontant is ook nodig vir versorging van die familie wat agterbly.

Boedelbeplanning vir indivudue

Dit gaan oor die struktuur van hoe die boedel se bates saamgestel is en waar die eienaarskap van die bates lê. Sekere bates kleef aan die persoon en ander bates lê in maatskappye of BK’s en in trusts. Sekere mense dryf handel en boer in hul eie name (eenmansaak) en ander gebruik maatskappye, BK’s en trusts. Boedelstrukture moet ook belastinggunstig wees. Om sekere strukture te verander, is soms koste-oneffektief. Elke persoon se boedeluitleg verskil ook van ‘n ander. Hoe mens getroud is en of kinders besighede oorneem later, speel ook ’n rol. Nadat al die relevante besonderhede, dokumentasie en informasie van die kliënt verkry is, verg dit deurdagte planne en scenarios van kundiges om elke kliënt se persoonlike- en sake risikos te identifiseer en oplossings te bied daarvoor. ‘n Boedelbeplanning moet holisties gedoen word waartydens ‘n kliënt se bates en laste, sy testament, besighede en trusts moet sinkroniseer. Mens moet presies weet hoe die toedrag van sake gaan wees as ‘n persoon of sy gade sterf. Alle risikos moet ondervang wees ten tye van afsterwe wat beteken dat daar genoegsame kontant is vir boedelkoste  vir borgskappe wat onderteken is en ook vir versorging van gade en kinders. Testamente moet geoudit word en gewysig word waar nodig, om dit uitvoerbaar te maak. Trusts word ook geoudit en verander, waar nodig en moet reg geadministreer word. Belasting speel ‘n groot rol tydens die beplanningsfase. Daar word gefokus op vermyding van verskeie soorte belastings sover moontlik, soos o.a. Inkomstebelasting met spesifieke verwysing na Artikel 7 C,  Artikel 9HA en Artikel 25 van die Inkomstebelastingwet, Skenkingsbelasting, Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW), Kapitaalwinsbelasting (KWB), Hereregte en Boedelbelasting. Koste word ook in ag geneem soos, Eksekuteurskoste, Begrafniskoste, Waardasiekoste, Advertensiekoste, Meestersfooi en derglike.

Testamente

‘n Testamente is die skriftelike dokument waarin mens jou wense uiteensit van hoe bates by dood moet verdeel. Dit moet skriftelik wees en duidelik vrywillig wees, met die duidelike bedoeling dat die dokument, ’n testament is. Dit moet onderteken word deur die testateur of testatrise of beide, as dit ’n gesamentlike testament is, in teenwoordigheid van twee (2) of meer getuies (14 jaar of ouer), wat ook gelyktydig moet teken. Die Testateur/Testatrise moet aan die einde van die testament ook teken. Deesdae word die getuies se persoonlike besonderhede ook agter die testament opgeteken. Elektroniese handtekeninge is nie toelaatbaar op testamente nie, want dit moet oorspronklik geteken word want die  Meester vereis ’n oorspronklik getekende testament. Waar iemand  met ’n merk teken, moet dit deur ’n Kommisaris van Ede gesertifiseer word op elke bladsy. Die Kommissaris kan die testament ook na die tyd sertifiseer, maar hy moet teenwoordig wees tydens ondertekening. Getuies mag nie erf nie en ook nie die opsteller van die testament nie. ‘n Testament moet spesifiseer dat die aangewese eksekuteur nie sekuriteit hoef te stel aan die Meester nie. Die Meester kan sodanige sekuriteit vereis. Dit beteken dat die eksekuteur, wat in beheer is oor die bates, aan die Meester ’n garansiepolis moet verskaf, wat bepaal dat as die bates wegraak of beskadig word, sal die versekering dit uitbetaal. As die eksekuteur die eggenoot of ’n kind is, word so polis nie vereis nie. As die oorledene nie ’n testament het nie, geld die Intestate erfreg. Dit beteken die gade en kinders erf in kindsdele (gelyke dele), maar die gade moet minstens R 250 000-00 erf. Wetlik aangenome kinders erf ook intestaat. As die gade en kinders nie bestaan nie, erf die ouers van die oorledene 50/50 en as hulle nie meer lewe nie erf hul ander kinders of die afstammellinge van daardie kinders. ’n Erfgenaam kan afstand doen van sy erfporsie. Minderjarige kinders se erfenis word eerder in ’n testamentêre trust bewaar vir hulle, as om dit na die Voogdyfonds by die Meester te stuur. Boedelbelasting is 20% op die belasbare boedel kleiner as R20m maar groter as R3.5m en bo R30m teen 25%. Boedelbelasting word vrygestel as gades van mekaar erf. Erfgename kan natuurlik ook ’n herverdelingsooreenkoms sluit oor die bates wat vererf word. Die eksekuteur se magte word in die testament uiteengesit. Saamblyers (soos man en vrou), kan nie van mekaar, intestaat erf nie. Indien daar ‘n universele vennootskap tussen saamblyers is, kan die oorlewende se bates beskerm word in die testament of skriftelike kontrak, dat dit nie binne die oorledene se boedel val nie. Saamblyers kan ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse ’n kontrak aangaan en geag word getroud te wees. Dan geld die intestate erfopvolging vir hulle. Elke mens wat ouer as 16 jaar is en by sy/haar volle positiewe is kan ’n testament maak en het testeervryheid, maar die bemakings kan nie ongrondwetlik is of onwettig wees nie en ’n testament moet geldig wees en op skrif wees, soos die wet voorskryf. Testeervryheid is ook onderhweig daaraan dat mens nie kan diskrimineer  tussen geslagte nie. ’n Testament moet ook alle vorige testamente herroep. Wysigings kan uiteraard net met die testateur se insette gedoen word en ‘n wysiging kan deur ’n kodisil gedoen word. In sekere omstandighede kan die hof ’n geskrif wat dien as ’n testament, maar wat nie aan die wetlike vereistes voldoen nie, wel kondoneer. Waar bates oorsee besit word deur iemand wat in SA gedomisilieerd is, sou dit beter wees om ’n testament in daardie land te laat opstel. Dit kan in SA onderteken word. Verskillende lande het verskillende koste en belasting-implikasies as mens se boedel of bates daar beredder word.

André Eloff (CFP®) en Lid van FISA

A J du Plooy (B Juris, ATC)

Boedelbeplanners: Business & Legal Consultants (Pty) Ltd

andre@buslegal.co.za

 

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X